Vier Vroue - Landi Engelbrecht

Hoe om te vergeet dat iemand blind is? Spandeer tyd saam met Landi. Landi het 'n paar insigte met ons gedeel oor haar lewe, die uitdagings wat sy oorkom het en om 'n ma te wees.

 

Sy beskryf haarself as gemaklik en leergierig.

 

Haar positiwiteit skryf sy toe daaraan dat sy haar gedagtes op God vestig. Sy laat nie toe dat klein dingetjies haar ontstel nie en kyk na die groter prentjie.

 

Landi ondergaan tans opleiding vir die gebruik van die skakelbord op die rekenaar. Dit is vir haar baie uitdagend, aangesien sy nie rekenaarvaardig is nie. Sy hou nie van veranderinge nie en om aan te pas by 'n nuwe werk was nogal 'n uitdaging. Ongeag alles, is sy toegewyd  om alles in haar lewe 'n sukses te maak.

 

'Toe ek jonger was en my kinders klein was, was dinge baie meer uitdagend. Om blind te wees, het nie 'n verskil gemaak hoe ons ons kinders grootgemaak het nie. ’ - sê sy. Hulle is nou volwasse  en help graag waar hulle kan, al kan sy dit self doen. Landi bestel kruideniersware en farmaseutiese produkte per telefoon. Sy is 'n goeie kok, en haar man is 'n lewende bewys hiervan.

Landi deel dat sy wens dat almal die entstof sal neem, omdat sy glo dat dit die verspreiding van Covid-19 tot 'n minimum sal beperk.

Gedurende hierdie uitdagende tye is Landi dankbaar dat God hulle gespaar het. Sy het nader aan God gekom en bestee meer tyd aan die lees van haar Bybel. Die Bybel voed haar spiritualiteit. Dit was moeilik om nie soos gewoonlik te kon kuier nie, maar gebed het haar aan die gang gehou en die gees gesond gehou.